12 dae gelede
Erge tragedie
VERWOESTING: Berenice Tromp sê die Moses-gesin sou na verwagting later die maand hul gesubsidieerde huis ontvang het.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS het nie ’n kans gehad nie.”

Só sê inwoners van Delft-Suid wat moes aanskou hoe hul bure en dié se tweelingbabatjies in ’n brand sterf.

Jessica en Bebe Moses en hul ses maande oue tweelingseuntjies, Caleb en Kyle, het Saterdagaand doodgebrand.

Berenice Tromp, ’n buurvrou, sê die brand wat hul lewens geëis het, het omstreeks 22:00 in die slagoffers se shack ontstaan.

Hulle woon al die afgelope vyf jaar as backyard dwellers in Palmstraat.

Die Moses-gesin se ouer kinders, Bronte (17), Aidan (12) en Rose (9), was genadiglik nie tuis toe die brand ontstaan het nie.

Dié drie is wees gelaat en woon nou by familielede in Leiden, sê Tromp.

Tromp vertel sy het Saterdagaand mense hoor skree. Hulle het aan die Moses-gesin se deur gehamer om uit te kom.

Sy sê verder: “Toe ek uitgaan, het ek gesien die hokkie langsaan my huis brand.”

Volgens haar was daar nie krag by die main huis gewees nie en Jessica het ’n kers aangesteek om die tweeling te voed.

Tromp (57) sê: “Die brand was reeds groot toe ek uitgekom het. Ek het vir hulle (die Moses-gesin) gegil om uit te kom.

“Toe hardloop ek waar ons probeer het om die brand te blus.

“Ons het sand gegooi. Ons het water op die vlamme gegooi, maar niks het gehelp nie.”

Kans

Tromp sê sy is ook nog getraumatiseerd oor wat Saterdagaand met die arme gesinnetjie gebeur het.

“Die vuur was rooi gewees,” voeg sy by. “Ons het alles probeer. Ons het nie ’n kans gestaan nie.

“Ons het gesien hoe hulle voor ons doodgebrand het. Dit was nie ’n lekker ding om te sien nie.

“Self nadat alles verby was, kon ons sien hoe vreeslik ’n brand mense kan vernietig. Dis beslis nie mooi om te sien nie.”

Angus McKenzie, wyksraadslid van Bonteheuwel, bevestig die voorval.

Volgens hom was hy op die toneel kort nadat die brand geblus is.

McKenzie sê hy voel veral hartseer vir die drie kinders wat oorgebly het.

McKenzie sê: “Ek doen ’n beroep op gemeenskappe, organisasies en individue om diep in hul sak te soek om hier uit te help om hierdie drie kinders te help.

“ ’n Kruis is oor hul jong lewenspad geplaas wat bitter moeilik is.

“Hierdie is beslis ’n Paasnaweek wat ek nooit sal vergeet nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters